40e Verjaarsdagviering

Ned Geref Gemeente Constantia word veertig

Berig geskryf deur Pieter Coetzee 21 Maart 2008

Op 9 Oktober 1968 het die gemeente Constantia afgestig van die Ned Geref Gemeente Zwaanswyk. Die verbintenis met die moeder-gemeente is deur die jare in stand gehou met besoeke, sosiale verkeer, kanselruilings en wedersydse gesamentlike dienste soos vandag op Goeie Vrydag.

Toe Constantia-gemeente in 1968 sy beslag gekry het, was die eerste leraar ds Z B Badenhorst. Mev Johanna Maree (in die omgang algemeen bekend as tannie K.P. wat sommer "Tannie Kappie" uitgespreek was, verbeel ek my) was die eerste skriba-kassier.

Die terrein waarop die kerk gebou is, was voorheen deel van die Kreupelbosch-landgoed. Toe die stadsraad verlof gegee het vir die bou van die kerkkompleks, was dit met die uitdruklike voorwaarde (ter wille van die bure) "dat daar nie in die kerksaal gedans word nie".

Ds Izak de Villiers, wat ds Badenhorst opgevolg het as leraar, is op sy beurt opgevolg deur ds Uys Theron. Dus in die veertig jaar van die bestaan van die gemeente, is die bediening deur drie leraars behartig. Deur die jare is ook by geleentheid op ’n deeltydse basis van die hulp van ander leraars gebruik gemaak. Tans beskik die gemeente sedert 2007 ook oor die dienste van ds Vernon Louw wat hoofsaaklik die Houtbaai-wyke van die gemeente bedien. In dieselfde jaar as wat die gemeente afgestig het, is daar in Houtbaai ’n nuwe kerksaal opgerig waar vandag elke Sondag ’n erediens gehou word.

Afrikaanssprekendes was in 1968 in hierdie deel van die stad in die minderheid en die situasie het steeds nie verander nie. In 1973 met die oprigting van die kerkgebou dui ds De Villiers aan dat die 550 lidmate versprei is oor die groot gebied van Dieprivier, Heathfield, Retreat, Meadowridge, Bergvliet, Constantia, Houtbaai en Llandudno. Volgens die jongste opname staan die lidmaattal op 547. Hiervan is byna ’n derde buite die gemeentegrense woonagtig (wat destyds nie deur die Kerkorde toegelaat is nie).

Die verspreidheid van die Afrikaanssprekende in die omgewing bring mee dat die kerk ’n spilpunt word waar hulle mekaar opsoek en daarom is die kuier na die diens op pad motors toe ’n algemene gesig.

Pieter Pelser, die argitek, het die kerk so ontwerp dat die waaiervormige voorkoms ’n intimiteit skep wat versterk word deur die uitsluiting van enige natuurlike lig van buite. Dit bied sitplek vir sowat 400 mense. Die hele kompleks, met die orrel inkluis, het sowat R190 000 gekos.

Die Ned Geref Gemeente van Constantia bring dank aan die Ned Geref Gemeente Zwaanswyk wat veertig jaar gelede die jong kind toegelaat het om uit die huis te gaan en op sy eie bene te staan. Die genade van die Hemelse Vader is groot oor ons almal.

Op 1 Junie 2014 gaan die Houtbaai wyk oor tot kerkplanting. Ds Gerhard Pietersen word beroep as eerste predikant en 'n eie Kerkraad word gekies. Die gemeente staan bekend as Houtbaai Gemeente.

40 Jaar van Genade - feesprogram

7 September 2008: Toeka se tyd se diens in Constantia. Verlang na die 'goeie ou dae'? Was hulle regtig so goed? In ons onthou van daardie tyd het ons aangetrek soos veertig jaar gelede. Kyk na ons fotos hier

10 Oktober 2008: Verskeidenheidskonsert in Houtbaai.

26 Oktober 2008: Feesnaweek: ds Isak de Villiers lei die oggenddiens in Constantia en die aandnagmaal in Houtbaai. Ds Jalize Uys lei die oggenddiens in Houtbaai.

Fotos van die oggenddiens in Constantia: sien dit hier.

Feesblad: Lees dit hier (1.1 Mb).

Feesbladfotos: sien ons foto-album.

  • Bo