Seisoene van die Kerkjaar

Advent

1 Desember - 24 Desember 2019

Die woord Advent is afgelei van die Latynse woord adventus wat koms beteken en verwys na Christus se koms en Sy wederkoms. Gedurende hierdie tyd vier ons God se ingryping in die geskiedenis deur die geboorte van Christus. Ons vertrou dat God dit wat begin is met Christus se eerste koms sal voltooi met Christus se wederkoms. Ons sien uit daarna dat God die Bose sal verslaan en die gebrokenheid van hierdie wêreld sal heelmaak. Advent fokus op die feit dat ons tussen die tye van Christus se eerste koms en Sy wederkoms leef en dit behoort ons leefwyse te bepaal. Dit is ’n tyd van afwagting en verwagting maar ook ’n tyd om aktief God se liefde in die wêreld uit te leef.

Advent begin op die vierde Sondag voor Kersfees en duur tot en met Oukersaand. Advent is deel van die Kerssiklus en ook die begin van die Kerkjaar. Die Kerssiklus begin met hoop en afwagting tydens Advent en loop uit op vreugde met Kersfees en sluit af met Epifanie.

Daar is verskeie simbole wat met Advent verbind word, maar die gewildstes is seker die Adventkrans en die Adventkalender. Die Adventkrans word gevleg of gevorm uit groen blare en takke. In die sirkel word vier kerse geplaas met 'n vyfde een in die middel. Die middelste kers is wit en die drie ander is blou of pers, die laaste een is ligroos. Die vier aan die buite rand word een vir een aangesteek op elke Adventsondag totdat al vier kerse brand op die vierde Sondag. Die ligroos kers word op die derde Sondag aangesteek. Die middelste kers word die Christuskers genoem en word op Kersdag aangesteek.

Die tradisionele kleure wat in Advent gebruik word is pers of koningsblou, ligroos, wit en groen. Die sirkelvorm van die krans dui op die ewigheid van God en Sy ewigdurende liefde. Die groen in die krans simboliseer nuwe lewe en groei. Die lig van die kerse simboliseer die lig van God wat na die wêreld gekom het. Die vier buitenste kerse simboliseer die vier weke van afwagting voor Kersfees maar ook die vier eeue van afwagting tussen Maleagi en Christus se koms. Die pers of koningsblou is koninklike kleure en verwys na die majesteit van die Seun van God. Die ligroos simboliseer vreugde. Die eerste kers simboliseer hoop of verwagting, die tweede verkondiging of aankondiging, die derde vreugde en die vierde reinheid of vrede.

Gesinne kan ’n Adventkrans maak om elke aand aan te steek om die wonderlike hoop en afwagting van hierdie seisoen uit te beeld. Kleiner kinders geniet ook die Adventkalender. Dit neem die vorm aan van ’n groot plakkaat met deurtjies vir al die dae tot Kersfees. Elke aand word ’n volgende deurtjie oopgemaak om ’n prentjie bloot te stel wat ’n verdere deel van die Adventverhaal vertel.

Kerstyd

25 Desember 2019 - 5 Januarie 2020

Die betekenis van Kerstyd gaan deesdae maklik verlore in die kommersialisering van die fees en die werklike betekenis word nie meer verstaan nie. Kersfees en Advent word ook baie maklik verwar sodat beide feeste van hulle betekenis beroof en gelowiges daardeur verarm word.

Kersfees begin reeds die aand na sonsondergang op 24 Desember en duur vir twaalf dae tot die fees van Epifanie op die 6e Januarie. Dit verduidelik dan ook die Engelse Kersliedjie The Twelve days of Christmas. Die Engelse naam Christmas, word afgelei van Christ mass, of 'n mis gehou ter ere van die geboorte van Christus op 25 Desember. Kersfees was nie deur die eerste Christene gevier nie, maar was in die jare tussen 300 – 400 n C as 'n Christen fees ingestel deur die vroeë kerkvaders.

Dit is heelmoontlik dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie maar dat die datum deur die ou kerkvaders gekies is om saam te val met die wintersonstilstand wat op 25 Desember gevier is deur die mense wat heidense afgode aangehang het. Die antieke Perse het 'n god van lig, Midras, erken en die Romeine het eer aan Midras gebring met 'n fees in die middel van die noordelike halfrond winter. Daar was ook ander heidense gode wat in hierdie tyd vereer is met feesviering en die gee van geskenke, soos die songod en Saturnus, die god van landbou. Christene eer deur die fees van Kersfees Christus as die ware lig van die wêreld.

Vir Christene is Kersfees die viering van Christus se geboorte. Die betekenis wat gelowiges in die fees moet sien lê ver anderkant die betekenis wat die sekulêre wêreld vir ons daaraan wil gee. God het mens geword en onder ons kom woon om vir alle mense die hoop van ewige redding te bring. Ons aanbid 'n lewende God wat omgee en wat bemoeienis maak met Sy kinders in hulle alledaagse lewe. Met Kerstyd vier ons die wonder van God wat Homself kom bekendmaak aan die mensdom.

Kersdienste word in verskillende dominasies op verskillende maniere gehou. In Afrikaanse kerke is die gebruik om 'n erediens vroegoggend op Kersdag te hou sodat almal daarna die dag saam met familie en vriende kan deurbring. In ander denominasies is dit ook die gebruik om op OuKersaand 'n gesinsdiens te hou, soms selfs 'n middernagdiens.

Die kleure in Kerstyd is wit en goud, wat dui op feesviering en vreugde. Die krip en die Betlehem ster is die vernaamste simbole wat die Kersverhaal weerspieël, so ook engele en herders. Kerse is 'n voortsetting van die fees van Advent, maar nou is dit nog meer 'n herinnering aan Christus as Lig van die wêreld.

'n Interessante ou gebruik wat nou verval het is die viering van die twaalf dae van Kersfees van 25 Desember tot 5 Januarie. Dit fokus op die geskenke wat ons van God ontvang:

Dag een: Jesus Christus, die eniggebore Seun van God
Dag twee: Die twee dele van die Bybel, die Ou en die Nuwe Testament
Dag drie: Die drie groot deugde, geloof, hoop en liefde
Dag vier: Die vier evangelies, Matteus, Markus, Lukas en Johannes
Dag vyf: Die Pentateug, of die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium
Dag ses: Die ses dae van die skepping
Dag sewe: Die sewe gawes van die Gees (Rom 12, 1 Kor 12)
Dag agt: Die agt saligsprekinge (Matt 5)
Dag nege: Die vrug van die Gees (Gal 5:22)
Dag tien: Die Tien Gebooie
Dag elf: Die elf getroue dissipels
Dag twaalf: Die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Epifanie

6 Januarie 2019

Die woord Epifanie beteken verskyning of openbaarmaking en word in die kerkjaar gebruik om te verwys na God se verskyning in die wêreld met die geboorte van Jesus.

Epifanie word gevier na die twaalf dae van Kersfees op die 6e Januarie of die Sondag naaste daaraan. Die besoek van die drie wyse manne en die geskenke wat hulle saamgebring het word met Epifanie in verband gebring omdat die wyse manne deur hulle optrede Jesus as God erken het.

Die kleure vir Epifanie is ook wit en goud soos vir Kersfees. Die simbole vir Epifanie is die vyfpuntige Betlehemster, kerse en 'n doopvont.

Die tyd tussen Epifanie en Lydenstyd

7 Januarie – 2 Maart 2019

Die periode tussen Epifanie en Lydenstyd word in verband gebring met Jesus se aardse bediening voor Sy reis na Jerusalem. Die eerste Sondag na Epifanie word Jesus se doop herdenk; dit was die begin van Sy openbare bediening. Die Sondae daarna kyk na wat Jesus hier op aarde geleer en gedoen het. Die laaste Sondag voor Lydenstyd word Jesus se verheerliking op die berg herdenk en staan bekend as die Sondag van die Verheerliking. Lydenstyd begin hierdie jaar op Aswoensdag op 5 Maart.

Die kleur vir hierdie tyd is groen, die kleur van groei. Dit is simbolies van die groei van die kerk in die wêreld.

Lydenstyd

3 Maart - 20 April 2019

Lydenstyd is die 40 weeksdae en sewe Sondae wat Paasfees voorafgaan, hierdie jaar begin Lydenstyd dus op 5 Maart op Aswoensdag. Lydenstyd eindig op Stilsaterdag, die Saterdag voor Paassondag. Hierdie is 'n tyd van hertoewyding aan die Here.

In die vroeë kerk was die Sondag voor Paassondag 'n vasdag en 'n dag vir boetedoening. Hiervan het die gebruik gekom om die veertig dae voor Paasfees as 'n tyd van vas en boetedoening te gebruik. Op Sondae was die vas onderbreek om Jesus se opstanding te vier. Tradisioneel was hierdie ook die tyd waarin nuwe bekeerlinge voorberei was vir hulle toetrede tot die kerk. Met die Hervorming het die fokus verskuif van boetedoening na God se genade en 'n lewe van dankbaarheid wat daaruit voortvloei. In ons dankbaarheid kyk ons ook na ander wat in nood en lyding verkeer en raak ons betrokke by hulle om hulle nood te verlig.

Die belangrikste simbool vir Lydenstyd is die kruis. Ander simbole wat gebruik kan word is spykers, 'n doringkroon, 'n sweep, 'n pers kleed en 'n groot wit kers met 'n doringkroon daarom gedraai. Op Palmsondag kan palmtakke ook die kerk ingedra word. 'n Pad of 'n oop Bybel kan gebruik word om die weg van waarheid en lewe voor te stel. Hierdie voorstellings kan mettertyd verander word na voorstellings van die Via Dolorosa, die lydensweg van Jesus in Jerusalem. 'n Kandelaar met sewe kerse kan gebruik word om die sewe weke van Lydenstyd af te tel. Elke week word een kers doodgeblaas tot die laaste kers op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag doodgeblaas word.

Op Aswoensdag, in die kerke wat Aswoensdag vier, is die kleur grys om aan as te herinner, die Bybelse simbool van rou en berou. Vir ander kerke is die kleur pers tot met Heilige Week, die laaste week voor Paassondag. Op Palmsondag verander die kleur na donkerrooi en op Heilige Donderdag of Goeie Vrydag verander dit na swart. Op Paassondag verander die kleur na wit.

Eerste Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Matt 4:1-11; Genesis 2:15-17; 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:12-19 Die gedeelte in Matteus handel oor die versoeking wat Jesus in die woestyn weerstaan het. Dit staan in kontras met die Genesisteks wat die verhaal vertel van die eerste mense wat geswig het voor die versoeking wat aan hulle gestel is. Die psalm is 'n belydenis van skuld en 'n dankbare aanvaarding van God se vergiffenis. In die teks in Romeine word die oortreding van die eerste mense en die gevolge daarvan gestel teenoor die gehoorsaamheid van Christus en die vryspraak wat daaruit voortvloei. (Uit: Preekstudies en Liturgiese voorstelle 2011)

Tweede Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Gen 12:1-4a; Ps 121; Matt 17:1-9; Rom 4:1-5, 13-17; Joh 3:1-17
Die fokusteks is die gedeelte in Matteus. Dit handel oor Jesus se verheerliking op die berg waar Hy weer eens, soos met sy doop, deur God aangewys is as sy geliefde Seun. Die Genesisteks handel oor die roeping van Abraham om tot seën vir al die volke op aarde te wees. Die Psalm is 'n pelgrimslied waarin die gelowige pelgrim verseker word van God se bystand en beskerming op die reispad. Die teks uit Romeine sluit aan by die verhaal van Abraham en beskryf hom as die vader van almal wat glo soos hy geglo het. Die teks uit die Johannes evangelie vertel die verhaal van Nikodemus wat Jesus in die nag kom besoek het. Op soortgelyke wyse as in die fokusteks word Jesus beskryf as die enigste Seun van God. Wenk: Lees 'n gedeelte 'n paar keer deur en vra dan: Wat staan vir my uit? Dink en bid dan verder daaroor. Dit kan nog meer sinvol wees om dit saam met ander te doen!

Derde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 4:5-42; Eks 17:1-7; Ps 95; Romeine 5:1-11
Die fokusteks handel oor Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou oor die water wat ewige lewe gee. Die Eksodusteks vertel die verhaal van die water uit die rots by Massa/Meriba tydens die woestynreis van die Israeliete. Die insident by Massa/Meriba kom weer aan die orde in die psalm, in die geval met spesifieke verwysing na die opstandigheid van die Israeliete. Die teks uit Romeine handel oor die vyandskap tussen God en mens wat deur Jesus se versoeningsdood uit die weg geruim is.

Vierde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 9:1-41; 1 Sam 16:1-3; Ps 23; Efes 5:8-14
Let op na die gebruik van die beeld van die herder. In Johannes praat Jesus van Homself as die goeie herder wat na sy skape (volgelinge) omsien en selfs sy lewe vir hulle aflê. In die psalm is dit God wat as die herder beskryf word wat sy kudde liefdevol versorg en beskerm.

Vyfde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Joh 11:1-45; Eseg 37:1-14; Ps 130; Rom 8:6-11
In die fokusteks wat handel oor die opwekking van Lasarus uit die dood, verwys Jesus na Homself as die opstanding en die lewe. Ook die Esegiëlteks handel oor lewe uit die dood aan die hand van die visioen van beendere wat tot lewe gewek word. Die psalm is die lied van gelowiges wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds hulle vertroue op die Here stel. Die teks uit Romeine fokus op die verskil tussen ’n lewe wat deur die sondige natuur beheers word, en ’n lewe wat deur die Gees van God beheers word. Ook in dié gedeelte is daar sprake van die sterflike liggaam wat lewend gemaak word deur die werking van die Gees.

Sesde Sondag in Lydenstyd

Lees gerus hierdie week: Ps 31:9-16: Ps 118:1-2; 19-29; Matt 21:1-11; Jes 50:4-9a; Fil 2:5-11; Matt 26:14-27: 66

Palmsondag en Heilige Week

14 April - 20 April 2019

Die wêreld maak veel van Paasfees maar vergeet gerieflik dat Lydenstyd en Heilige Week Paasfees voorafgaan. Sonder die gebeure wat in Heilige Week (ook bekend as Groot Lydensweek) herdenk word het die 'fees' in Paasfees min sin.

Die vroeë Christene wat nog steeds hulle Joodse wortels onthou het, het steeds die tradisie van 'n agt dae nagwaak voor Pasga gevolg. Met verloop van tyd het dit ook tradisie geword vir ander Christene wat nie vanuit die Joodse agtergrond gekom het nie, om die week voor Paasfees sekere gebeure te herdenk.

Heilige Week begin die Sondag voor Paasfees met Palmsondag.
Palmsondag - Jesus se intog in Jerusalem (Markus 11:1-11; Lukas 19:28-44)
Maandag - die reiniging van die tempel (Markus 11:15-19; Lukas 19:45-48 )
Dinsdag - strydgesprekke in Jerusalem (Markus 11:27-12:14; Lukas 20)
Woensdag - Jesus rus in Betanië, Hy word gesalf (Markus 14:3-9; Matteus 26: 6-13)
Donderdag - Instelling van die Nagmaal, was van voete, Getsemane (Mar 14:22-72; Joh 13)
Vrydag (Goeie Vrydag) - Kruisiging, begrafnis (Markus 15; Lukas 23)
Saterdag (Stil Saterdag) - Jesus in die graf (Lukas 23:56b)
Sondag (Paasfees) - Jesus oorwin die dood en verkry ook vir ons die oorwinning (Markus 16; Lukas 24)

Tydens Heilige week is die kleur bloedrooi en vir Goeie Vrydag is dit swart.

In ander kerkgenootskappe is dit die gebruik om 'n erediens of 'n informele byeenkoms, elke dag, in hierdie week te hou. Donderdagaand word die kerk van alle versierings gestroop en alle kerse word doodgeblaas in voorbereiding vir Goeie Vrydag. Stil Saterdag word soveel moontlik in stilte herdenk. Op Opstandingsondag word 'n diens van voor sonop tot net daarna gehou sodat die lig van die opkomende son Jesus se opstanding uit die dood kan simboliseer. Agterna kan 'n gesamentlike ontbyt gehou word. Indien die diens in die kerk gehou word word die kerk met blomme versier.

Paasfees

21 April - 9 Junie 2019

Die Paassiklus sluit in Paasfees, Hemelvaart en Pinksterfees.

Pasga is 'n belangrike fees in die Joodse liturgie. Gedurende die fees herdenk hulle die verlossing van Israel uit Egipte. Dit is elke jaar getrou gevier met vreugde en in afwagting op die koms van die Messias. Paasfees het vir Christene die fees geword om die opstanding van die Here te vier, die seisoen van nuwe lewe.

Die Christelike geloof en die kerk het uit die geloof in die opstanding van Jesus Christus ontwikkel. As Jesus nie na sy opstanding aan die verslae dissipels verskyn het nie, sou daar nie so iets soos die Christelike geloof of die kerk bestaan het nie. Die vroeë Christene het mekaar in vreugde gegroet: “Christus het opgestaan!” Paasfees is dus die kern van die viering van die kerklike jaar en daarom die groot hoogtepunt van die kerklike jaar.

Tradisioneel is die viering van Paasfees reeds begin teen sononder op Stil Saterdag. Die vroeë kerk het Paasfees met 'n Paaswaak gevier wat die hele nag geduur het. Later het sommige kerke die tradisie vervang met 'n middernagdiens wat in donkerte begin het (die donkerte van die graf). Deur die verloop van die diens word een kers gebruik om gemeentelede se kerse een vir een aan te steek sodat die diens eindig in 'n helder verligte kerk met die lig as simbool van die opstanding en Jesus as Lig van die wêreld wat teruggekeer het uit die dood. 'n Moderner neiging is om Paasfees met sonsopkoms op Paassondag te vier. Die opkomende son dien om die gelowiges te herinner aan Jesus se opstanding uit die graf, aan Sy lig wat oor die duisternis seëvier.

Die tyd tussen Paasfees en Pinkstersondag, 'n tydperk van 50 dae, staan bekend as Paastyd en neem dieselfde plek in die kerklike jaar in as wat Sondag in die week inneem. Na die pers van Lydenstyd, wat na rooi verander in die Groot Lydensweek en na swart op Goeie Vrydag, word wit, die kleur van oorwinning en reinheid nou gebruik. Die kleurveranderings simboliseer die feit dat die bose oorwin is en dat ons skoon gewas word van sonde. Eiers is 'n simbool van nuwe lewe en herinner ons ook aan die nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons inhou. Die vroeë Christene het hardgekookte eiers waarvan die dop rooi gekleur is aan mekaar uitgedeel op Paassondag met die groet: “Christus het opgestaan”, en die antwoord: “ Christus het waarlik opgestaan!”

Kyk hier hoe om uit te werk op watter dag Paasfees in 'n spesifieke jaar val.

Tekste om in Paasfees te lees

Lees gerus in hierdie tyd: Psalm 118:1-2, 14-24; Jesaja 25:6-9; Johannes 20:1-18; Handelinge 10:34-43; Openbaring 1:1-18.
Psalm 118:1-2, 14-24 - 'n oorwinningslied, 'n jubelende danksegging na redding van die dood.
Jesaja 25:6-9 - 'n Paasfees visie van die lewe in die teenwoordigheid van die Lewende God.
Johannes 20:1-18 - die evangelis se beskrywing van die gebeure rondom die oop graf.
Handelinge 10:34-43 - Petrus se verklaring van die Evangelie aan die mense in Cornelius se huis bymekaar.
Openbaring 1:1-18 - Johannes se visie van die herrese Heer, maar die keer as die verheerlikte Christus.

Hemelvaart

30 Mei 2019

Jesus se Hemelvaart word gevier op die Donderdag veertig dae na Paasfees en tien dae voor Pinkster. Die viering van Hemelvaart help ons om te besef dat godsdiens nie 'n abstrakte saak is nie, maar alles met ons aardse bestaan te doen het. Hemel en aarde raak as 't ware aan mekaar en is eintlik deel van een groter entiteit. Beide die hemel en die aarde word "God se woonplek" in die Bybel genoem. Die opstanding gryp vooruit na die hemelvaart en Pinkster gryp terug daarna. Hemelvaart is die skarnier tussen die twee vieringe, wat die dualisme tussen "hemel" en "aarde" ophef. Die een is so werklik en so toeganklik soos die ander. God is "tuis" by mense en mense is "tuis in die huis van die Here".

Die kleur vir Hemelvaart is wit.

Pinkster

9 Junie 2019

Pinkster is 'n Joodse fees wat 50 dae na die Pasga gevier word. Dit staan in die Bybel bekend as die "Fees van Weke" (Lev 23:15-21; Deut 16:9-10), 'n oesfees wat met groot vreugde en feesviering gevier is vir die oes wat ingesamel is. In die tyd van die Nuwe Testament is die fees ook verbind aan die gee van die Wet, die Tora, op Sinai. In Handelinge 2:1 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees tydens hierdie fees. Dit is die geboortedag van die Kerk van Christus, die dag dat die Here begin het om Sy oes in te samel. Op hierdie dag is die dissipels bemagtig om die evangelie van Jesus oor die hele wêreld uit te dra.

Die tyd tussen Paasfees en Pinkster is die belangrikste tyd in die kerkjaar, en neem dieselfde plek in in die kerkjaar as wat Sondag in die week inneem.

Die kleur van Pinkster is vuurrooi wat die vuurtonge wat op die dissipels neergedaal het, simboliseer. Dit simboliseer ook die vuur wat in die harte van mense brand om die liefde van God in die wêreld sigbaar te maak.

In die NG Kerk word die viering van Pinksterfees voorafgegaan met 'n week van bidure. Dit het ontstaan in Mei 1861 in die Paarl na 'n besondere belewenis wat ds G W A van der Lingen gehad het.

Koninkrykstyd

10 Junie - 30 November 2019

Koninkrykstyd is die tydperk na Pinkster en voor Advent. Dit is die tyd waarin op die werk van die kerk gefokus word. Die tydperk vloei voort uit Pinkster met die klem wat val op die verskillende maniere wat die Gees die kerk bemagtig om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak. Daar word op verskillende aspekte van die werk van die kerk gefokus: barmhartigheid, evangelisasie, gemeenskapsontwikkeling en dienswerk.

Groen is die kleur wat gebruik word tydens Koninkrykstyd. Dit simboliseer groei en ontwikkeling en dui op die groei en uitbreiding van die Koninkryk.

Die eerste Sondag na Pinkstersondag staan bekend as Drie-eenheidsondag.

Hervormingsondag

27 Oktober 2019

Met Hervormingsondag herdenk Protestantse kerke die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Martin Luther het op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge van protes teen die aflaatstelsel teen die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg vasgespyker. Hierdie gebeurtenis word algemeen beskou as die begin van die Hervorming. Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola’s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as die leë hand waarin die verlossing ontvang word), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer).

Besoek ook www.kencollins.com vir meer inligting oor simbole in die kerkjaar.

  • Bo