Pitkos
Ouerleiding
Verhoudings maak waardes moontlik in families
gepubliseer in Communitas Webnuus (www.communitas.co.za)
Frederick Marais vertel in die boekie "Familie is ‘n Werkwoord" hoe hy as jong predikant gedink het hy het ‘n roeping om gesinne te leer om weg te doen met die stelsel waar pa en ma die gesag is wat die besluite namens die gesin neem, en dit kinders se taak is om gehoorsaam te wees. In plek daarvan sou hy hulle leer om as gesin ‘n deelnemende benadering te hê. Hy het gedink hy sou gesinne kon leer dat as pa, ma en kinders saam besluite neem, dit met hulle goed sal gaan. Vrugtelose gesprek ná vrugtelose gesprek het hom aan die dink gesit. Hy het agtergekom dat hy nie op die regte spoor was nie, maar waarin die antwoord lê, kon hy nie uitmaak nie. Op ‘n dag het die lig deurgebreek en hy het vir homself gesê: "Jou "stupid"!, die antwoord lê opgesluit in verhoudings. Waar daar gesonde verhoudings tussen ouers en kinders is, sal dit vir hulle moontlik wees om saam besluite te neem en sal dit moontlik wees om waardes te vestig. Dit bring ons weer waar ons verlede week afgesluit het: Die waarheid is dat jy nie jou kind of enigiemand anders op enige manier kan beïnvloed om op ‘n verantwoordelike manier sekere waardes te beoefen as julle nie ‘n positiewe verhouding het nie. Stephen Covey skryf in sy boek "7 Habits of Highly Effective Families" die volgende: "One of the biggest mistakes people make is trying to teach (or influence or warn or discipline) before they have the relationship to sustain it".
As goeie verhoudings ‘n voorvereiste is vir die oordra van waardes, wat doen ons om daarby uit te kom? Die slegte nuus is dat daar nie ‘n kortpad is nie. Die goeie nuus is dat dit vir almal van ons is moontlik is. Bygesê, dit is harde werk. Dit sal boonop soms nodig wees dat ons van ou, gevestigde sienings afstand doen, om nuwe gesindhede en vaardighede te ontwikkel.
Goeie verhoudings is ‘n voorvereiste vir die oordra van waardes, maar goeie kommunikasie is op sy beurt ‘n voorvereiste vir ‘n goeie verhouding. Goeie kommunikasie begin, anders as wat ons soms dink, nie by praat nie, maar by luister. As ons met ons lyf, oë, ore, hart en verstand luister na wat ons kinders sê, sal dit ons help om begrip te ontwikkel vir hulle gevoelens en ervarings. As ons dit nie doen nie, is dit asof ons ons vasloop teen ‘n hek wat gesluit is tussen ons en ons kind. Deur empaties te luister maak ons die hek na goeie kommunikasie oop. Hierdie stap, naamlik luister, kan nooit oorgeslaan word as ons met ons kinders wil kommunikeer nie. ‘n Mens kan tog nie bo-oor ‘n geslote hek by mekaar uitkom nie.
As ons met volle aandag na kinders luister terwyl ons onsself in hulle skoene probeer plaas, dra ons twee boodskappe aan hulle oor: "Ek gee om" en "jy en wat jy sê is vir my belangrik". Eenkeer het ek ‘n onderhoud gevoer met ‘n seuntjie wat vir gedragsprobleme en swak skolastiese vordering verwys is. Anders as wat ek verwag het, het hy vir veertig minute lank ‘n intelligente gesprek gevoer. Sy ma, wat stilletjies by die deur afgeluister het (dit was die enigste keer dat ek so iets ervaar het!), het verstom gesê dat hy die middag meer gepraat het as wat hy die afgelope ses maande met haar gepraat het. Die verskil was dat ek blaamloos geluister het terwyl sy welmenend ‘n oplossing aan die hand gedoen of gekritiseer het sodra hy sy mond oopgemaak het. Sy het nooit enduit geluister nie. Kinders wil nie noodwendig hê ons moet hulle probleme oplos nie. Hulle wil hê dat ons met begrip na hulle luister. Dalk het julle ook al ervaar hoe ‘n gefrustreerde kind uitroep as jy praat voordat hy/sy klaar gepraat of verduidelik het nie: "Ma/ Pa jy hoor nie wat ek sê nie". Covey sê: "Seek first to understand en then to be understood".Wenke vir Raadop Ouers
gepubliseer in Communitas Webnuus (www.communitas.co.za)
Daar is niks wat vergelyk kan word met die vreugde van ouerskap nie. In ons familie ervaar ons dit op die oomblik in oorvloed. Ons eerste agterkleinkind is pas gebore en natuurlik is klein Cobus die pragtigste, slimste en voorspoedigste baba ooit. Hy is nog ongeskonde en sonder die letsels van die lewe wat geen kind misloop nie, selfs al het hy ouers wat hom wil toevou in hulle liefdevolle beskerming. Om doeltreffende ouers te wees sal hulle ongetwyfeld ‘n hele reeks vaardighede bemeester. Ek kan egter onthou dat ek soms net aan ‘n reddingstou in die vorm van een of ander wenk wou vashou as alles nie volgens plan verloop het nie. Vanaand dink ek aan wenke wat moontlik jong ouers (en ander ouers) kan help:
• 1 Gee liefde Vertel vir hom en vir haar hoe spesiaal en uniek elkeen is. Wees kwistig met drukkies en soentjies. Wees “daar” as jou kind jou nodig het.
• 2 Spandeer tyd saam met elkeen afsonderlik. Doen saam met jou kind dié dinge wat hy of sy graag wil doen (dit sal nie altyd die aktiwiteit wees waarvoor jy lus is nie). Dit kan wees om saam wegkruipertjie of Monopoly te speel. Dalk wil hy gaan fietsry of wil sy ‘n musiekkonsert bywoon. Kinders floreer op ouers se aandag en as daar twee ouers is, benodig hulle beide se tyd en aandag.
• 3 Praat minder en luister met volle aandag As ouers empaties luister; met oë, ore en hart, help dit hulle om begrip te ontwikkel vir hul kinders se gevoelens en ervarings. Dit is vir die kind makliker om te vertel wat haar kwel wanneer die ouer die aktiwiteit waarmee hy besig is staak en regtig luister. Ouers wat met volle aandag luister dra sy twee boodskappe oor: “Jy is belangrik genoeg” en “ek gee om”. ‘n Kind se grootste behoefte is nie dat sy ouer vir hom moet raad gee nie, maar dat sy ouer sal hoor wat hy sê.
• 4 Skep struktuur ‘n Kind voel geborge as daar gereelde eet- en slaaptye is, selfs al skop hulle soms daarteen. Dit skakel konflik uit as daar roetine handelinge is soos dat skoolklere uitgetrek word as hulle van die skool af kom en dat huiswerk afgehandel word voordat hulle gaan speel. Waak terselfdertyd daarteen om rigied te wees
• 5 Laat kinders toe om keuses te maak Die blote kans om ‘n keuse uit te oefen verminder by ‘n kind weerstand om ‘n taak uit te oefen, want dit laat hom in beheer en belangrik voel: “Wil jy jou blou broek of jou groen broek aantrek?” of “wil jy Weet Bix of Post Toasties hê?” of “wil jy jou medisyne met koeldrank of ‘n lekkertjie afsluk”.
• 6 Probeer om nie uit gewoonte “nee” te sê nie Nee is vir ‘n kind soos ‘n rooi doek vir ‘n bul. Sy vra: “Kan ek gaan speel?” Sê eerder: “Ons eet oor 5 minute” as “nee, ons eet oor 5 minute”.
• 7 Behou hoop Kinders het dikwels ‘n droom van wat hulle wil word en bereik. Jou kind wil ‘n sanger, dokter, polisieman, onderwyser of beroemde sportman word. Droom saam eerder as om hom wreed te ontnugter. Hy sal wel mettertyd realisties word en ontdek wat sy werklike aanleg is.
• 8 Moenie blameer nie Wanneer ‘n kind ‘n fout maak en jy blameer of verkleineer hom, voel hy vir homself jammer. Verduidelik eerder waarom dit ‘n fout was en wat ‘n beter opsie sou wees. Spreek die fout aan en nie op die kind nie.
• 9 Moenie dreig nie. Ouers is geneig om baie keer te dreig voordat hulle optree. Dit maak kinders ouerdoof. ‘n Kind weet dat hy byvoorbeeld maar met sy voete op die bank kan sit, want ma en pa dreig, maar tree nie regtig op nie. Gee liewer ‘n keuse met ‘n logiese gevolg: “As jy aanhou om met jou voete op die tannie se bank te sit, sal jy op die vloer moet sit”. Wenke help baie, maar ‘n mens kan ook verstrik raak in al die wenke as jy nie oor ‘n ‘n goed-gedefinieerde ouerskapsiening beskik nie. Gelukkig is daar kursusse, soos POSPAR wat daarmee help. Vir meer inligting gaan na “Positiewe ouerskap” op die Communitas webblad: www.communitas.co.za
Kinders meet kragte met Ouers
gepubliseer in Communitas Webnuus (www.communitas.co.za)
My kind meet kragte met my – en wen
‘n Radelose ouer vertel dat haar voorskoolse kind weier om opdragte uit te voer. Hy weier onder andere volstrek om sy speelgoed op te tel as hy klaar gespeel het. Sy gee dan vir hom ‘n keuse soos: “As jy nie jou speelgoed optel nie, kan ons nie die storie lees wat jy so graag wil hoor nie.” Hy kies dan om nie die storie te hoor nie. Dit maak nie saak wat sy probeer nie – hy hou voet by stuk en gee nie in nie.
Iemand anders vertel dat sy as klein kind geweier het om in opdrag van haar ouers vir haar boetie verskoning te vra omdat sy “lelik” was met hom. Sy is aangesê om op ‘n stoel te sit tot sy kans sien om verskoning te vra. Sy het ure op die stoel deurgebring, maar kon nie beweeg word om verskoning te vra nie.
Ouers beland onverhoeds in so ‘n “oorlog” of “magstryd” met weerstandige kinders oor hulle verantwoordelikhede en pligte. Wat ouers moet verstaan is dat hulle nie die stryd kan wen nie. Kinders het al die tyd in die wêreld om die magspel te speel en jou te toets en te beproef. Al raad is om die kind oor te haal tot ‘n ander siening.
1. Fokus op die probleem en nie op jou kind of die stryd nie, want as ma op die kind fokus en hom beskuldig, byvoorbeeld: “Jy is ongehoorsaam/ stout”, verstaan hy dat hy die probleem is. Hy voel dan veronreg en jammer vir homself en nie oor sy ongewenste gedrag nie. Boonop sal die kind ervaar dat sy ouer onbillik teenoor hom is. As sy in ‘n stryd tree met haar kind oor byvoorbeeld optel van speelgoed, kan ‘n volskaalse magstryd ontstaan sonder dat die probleem opgelos word. Dit help die ouer om minder emosioneel te reageer en gee perspektief as sy in haar gedagtes die probleem van haar kind skei en vir haarself sê dat hy nie die probleem is nie. Sy is vir hom lief en hy is pragtig en is nie ‘n slegte mens omdat hy nie die speelgoed optel nie. Die probleem is dat die speelgoed nie opgetel word nie.
2. Luister eers empaties en met volle aandag na jou kind voordat jy, saam met hom, die probleem probeer oplos. Plaas jouself in sy of haar skoene en probeer verstaan waarom hy weier om die speelgoed op te tel en waarom sy weier om verskoning te vra. Op dié manier dra jy die boodskap oor dat jy waarde heg aan jou kind se siening en dat jy sy of haar redes respekteer. ‘n Mens kan nogal verras wees as jy by die rede “agter” jou kind se gedrag uitkom. Dit het geblyk dat die dogtertjie wat geweier het om verskoning te vra van mening was dat sy sou jok as sy verskoning vra. Sy was nie jammer oor haar gedrag nie, want haar boetie het haar dikwels getreiter en sy was bly dat sy ook ‘n slag met hom kon afreken!
Hoewel dit soms moeilik is om by jou kind se motiewe vir die ongewenste gedrag uit te kom, weet ouers wat die POSPAR-KURSUS voltooi het dat dit help as jy eggo. Begin deur met ‘n belangstellende stemtoon alles wat die kind sê te herhaal: Kind: “Ek wil nie die speelgoed optel nie”. Ouer (met ‘n kalm, simpatieke stem): “Jy wil nie die speelgoed optel nie?” Kind: “Ek wil nie en ek sal nie!” Ouer, belangstellend: “Jy wil regtig nie die speelgoed optel nie”. Kind: “Nee”. Ouer: “Nee?” Kind: “Hoekom moet ek dit nou optel en in die kamer bêre as ek netnou weer wil speel?”
Dan bevestig/ “validate” die ouer: “Ek kan verstaan dat jy dit nie wil optel as jy netnou weer wil speel nie. Kom ons maak ‘n plan. Sal dit help as ek vir jou ‘n doos gee om dit in te pak, want ek is bang as dit hier bly lê trap iemand dit stukkend. As jy ‘n ander plan het, kan ons dit bespreek.”
Met die laaste respons bekragtig / “validate” die ouer. By implikasie sê sy dat die kind ‘n punt het en dat sy dit respekteer (selfs al dink sy anders daaroor). Vervolgens gee sy ‘n rede waarom dit belangrik is om die speelgoed op te tel. Sy doen ook ‘n moontlike oplossing aan die hand en luister indien hy ‘n alternatief aanbied. So maak hulle saam ‘n plan om die saak op te los. Beide trek voordeel uit so ‘n oplossing- die ma, omdat die speelgoed opgetel word en die seuntjie omdat sy beswaar in ag geneem is en die speelgoed moontlik op ‘n plek is waar hy dit makliker in die hande kan kry.
3. Neem die kind se ouderdom is ag. Jong kinders hou meesal nie daarvan om ‘n taak soos speelgoed optel alleen uit te voer nie. Dit help dikwels as die ouer aan die hand doen dat sy dit saam met hom sal doen.
4. Besluit wie se probleem dit eintlik is. Daar kan byvoorbeeld besluit word dat klere of speelgoed wat in ‘n kind se kamer rondlê sy probleem is en dat die ouer nie sal inmeng nie, maar wanneer dit in die woonvertrek rondlê is dit die ma se probleem, want dit is vir haar belangrik dat die vertrek netjies moet wees.
5. Lewer positiewe kommentaar as ‘n kind ‘n taak verrig. Noem wat gedoen is en gee ‘n rede om aan te dui waarom dit goed is: “Jy het jou speelgoed/ klere/ boeke/ CD’s opgetel. Dankie. Dit lyk netjies”. Ons is geneig om aandag te vestig op ongewenste gedrag en aanvaar dit as vanselfsprekend as take wel uitgevoer word.
Ek vertrou dat die wenke sal help om die klein rakkers se weerstandigheid te beheer.
DOOP HERINNERING
gepubliseer in Communitas Webnuus (www.communitas.co.za)
Herskep ’n sentrale plek in jou huis as ’n doop-herinnerings plek (ons het ’n spesifieke tafeltjie wat ons al die potte en blomme afhaal en dan die volgende op die tafeltjie sit: Doop-kers, doop-Bybel – oopgemaak by die gedeelte wat by sy/haar doop gelees is, doopseel en doop album – of haal net ’n paar foto’s uit die album uit) Spreek ’n tyd af wanneer die gesin ontmoet rondom die sentrale plek (ons doen dit net voor ons die dag elkeen in sy/haar eie rigting uitgaan).
Die proses: ons staan almal in ’n halfmaan om die tafel. Ons gee vir die een wie se doopdag ons vier die geleentheid om sy/haar kers aan te steek (ons gebruik woorde soos: “Met die aansteek van die kers bevestig ons weer dat die Here jou met jou doop aangeraak het om Sy liefde aan jou te bevestig, ’n liefde waaraan daar geen einde is nie”). Een van die ander gesinslede lees die gedeelte uit die Bybel en iemand anders doen ’n gebed. Doen iets lekkers – gee ’n geskenkie, eet koek, gaan drink ’n melkskommel (my vrou bak gewoonlik kolwyntjies wat ons dan eet as almal weer vanaand huis toe kom). As niemand by die huis is nie, blaas ons die kers dood, maar so gou die een wie se doop gevier word weer terug is, word die kers weer aangesteek en brand dit die hele tyd.
DAAR IS ’N DRAAI IN DIE GETY
- Alta Marais, gepubliseer in Communitas Webnuus, Dinsdag 4 Augustus 2009. (www.communitas.co.za)
Die nuwe generasie ouers kan hulself op die skouer klop.
Ek haal aan en som op uit ’n onlangse skrywe van Frederick op die “Padlangs met Gemeentes” blog:
In die negentigerjare was daar ’n persepsie dat familielewe besig was om veld te verloor. Die oplossing? Tradisionele rolle van mans, vroue en kinders moes net herleef dan sou die Kaap weer Hollands wees. Dié siening was so gewild dat daar nie eintlik belangstelling was in navorsing oor die onderwerp nie. In gemeentes was die siening dat familielewe belangrik was, maar hulle het probleme ontken of dit afgeskuif op ander instansies, Hulle het ook nie raakgesien hoe die patriargale praktyke wat deur leiers bevorder is, nadelig was vir die vorming van verhoudings binne gesinne en families nie.
Hy skryf verder: Ek het die afgelope tyd tekens begin sien van ’n draai in die gety wat my baie opgewonde maak: ’n Gemeente in die Vrystaat vertel my hoe hulle junior kategese “afgeskaf” het en tuis- of familiekategese in die plek daarvan geïmplementeer het. Dit is met entoesiasme deur jong ouers begroet. Hy vertel die mooiste verhale van hoe hulle dit doen. In die verlede het verskeie gemeentes dit probeer, maar dit het nie geslaag nie.
Dit blyk dat ’n nuwe generasie ouers, die sogenaamde X-generasie (gebore tussen 1965 en 1979) die eerste generasie is waar Pa én Ma graag dinge saam met hulle kinders wil doen. Dit sluit deel wees van hulle geestelike ontwikkeling in. Marilyn Evans noem hulle die “Family first generation.” (USA Today 12/12/2004). Roger Waite skryf in ’n onlangse artikel in The Sunday Times in London: “Found fathers nurture a family revival” (11/03/2009 p5). Hy beskryf die onverwagse wending treffend: “...even though we are now supposed to live in a ‘broken Britain” a report of the Oxford University researchers argue that for many of us, family life is likely to become more cohesive over the next 20 years.” Uit die navorsing blyk dit: · Nie alleen spandeer ma’s 25% meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede nie, · Pa’s spandeer byna ’n derde meer tyd saam met hulle kinders as 20 jaar gelede. · In 1960 het gemiddeld 12% van alle families elke aand saam geëet, terwyl in 2002 20% dit doen.
Ek begin oplet wat rondom my aangaan en daar ontvou ’n nuwe wêreld voor my oë. Ek sien ouers in die kerk met hulle kindertjies (die ouer generasies verkies wel dat hulle moederskamer toe sal gaan). In my buurt gaan pa’s en ma’s gereeld saans geduldig met hulle kinders stap. Dit is duidelik dat hulle dit geniet om tyd saam met hulle kinders te spandeer. ’n Kollega vertel dat, terwyl hulle tot ’n paar jaar gelede gesukkel het om ouers by ouerskapskursusse te kry, daar nou waglyste is ten spyte daarvan dat hulle meer kursusse aanbied as voorheen.
Ek lees intussen nog goeie nuus: Marilyn Evans berig in USA Today dat generasie X en Y werknemers meer geneig is sal wees as die sogenaamde “boomer” generasie om familie bo werk te stel. The Families and Work Instituse van New York praat van ’n “generational shift” wat ten opsigte van familielewe besig is om plaas te vind. Die verandering in houding het onverwags gekom. Galinski sê: “What I hear all the time from young men is that they want to be different than their fathers, who often worked long hours. They want to be more involved in their children”s lives.” Die volgende verhaal illustreer: “Hoff, a chemist changed his work life to spend more time with his two year old son, Alexander. Hoff works at Abbott Laboroties, and until last April commuted with his wife, Elizabeth, another Abbott employee. But she often had to work late, so they didn’t see Alexander from 7a.m. to 7 p.m. Hoff’s own father, a computer programmer, had often travelled for weeks at a time. “My family is more important than work”, Hoff says. ”I got frustrated because I was missing a lot of quality time with Alex”. With his boss’s cooperation, Hoff started working a 6:30 a.m. to 3 p.m. shift so he could spend several hours with Alex before bedtime. They read, work puzzles, play baseball and just hang out. “Alex is happier now. He just glows and loves to talk about his time with daddy”, Elizabeth Hoff says. Hier plaaslik weet ek van ouers, beide dokters, wat saam in ’n praktyk is. Hulle maak beurte om middae tuis te bly om by hulle kinders te wees.
WIE MOET WAT LEER?
—Karin Grobler, Vir die Kinderwerker, Jonk Nuusbrief, Julie 2009
Ons primere werk is om kinders te help om vir Jesus te leer ken, sodat hulle deur die werking van die Heilige Gees kan besluit om Hom te volg en dan ‘n dissipel van Jesus te wees. Dit is nie eenvoudig nie. Ons besef dat ons met kinders van verskillende ouderdomme te doen het. Daarom is dit belangrik dat ons sal verstaan hoe om verskillende ouderdomme “geestelik” te benader. Ek gaan probeer om oor die volgende paar uitgawes riglyne te gee hiervoor. Ons gaan ‘n bekende Engelse liedjie gebruik om dit vas te knoop:
Jesus Loves Me
This I know
Yes, Jesus loves Me!
Jesus (Babas - 2 jaar):
Hulle moet weet dat Jesus/God regtig bestaan. Hulle moet die name Jesus en God baie hoor. Liedjies speel ‘n baie belangrike rol. Gebruik liedjies soos: Jesus Groot bo almal en My God is so groot ….ens om die konsep van Jesus en God by hulle vas te lê. Hulle het nodig om te hoor hoe volwassenes Jesus se naam sê as hulle bv. Bid vir kos. Maak gebede persoonlik, asseblief nie rympies nie.
Loves (3 - 5 jariges):
Hulle wil stories hoor wat vertel van God se liefde. Jesus se wonderwerke is fantasties. Die klem moet lê op Jesus se liefde vir mense. Stories soos God wat met Samuel gepraat het, Jesus en die kindertjies ens. Hulle het aanvanklik geleer dat Jesus/God bestaan, nou moet hulle leer wat Hy gedoen het wat so wonderlik is. Skepping stories werk ook goed.
Me (6 & 7 jariges):
Vertel vir kinders dat Jesus, van wie hulle al so baie gehoor het, ‘n persoonlike verhouding met hulle wil hê. Hulle gryp gewoonlik die geleentheid aan om vir altyd Sy vriend te word. Dit is vir hulle ongelooflik om te hoor dat Jesus bereid was om die straf te dra vir al die verkeerde dinge wat ek doen, en dat Hy my selfs sal help om die regte keuses te maak vir die res van my lewe.
This I Know (8 & 9 jariges):
Gee steeds vir hulle geleentheid om ‘n verhouding met Jesus te begin. Hulle kognitiewe vermoëns verhoog en hulle kan al redelik lees, daarom is dit die ideale ouderdom om vir hulle te begin verduidelik wat ‘n verhouding met Jesus behels. Hulle kan ook leer dat die Bybel die bron is om meer van Jesus en ons verhouding met Hom te leer.
Yes, Jesus Loves Me! (10 & 11 jariges):
Hulle kan steeds besluit of hulle ‘n verhouding met Jesus wil begin. Daag hulle uit om standpunt in te neem oor hulle geloof. Hulle moet nou die beginsels leer en besluite neem wat hulle deur die uitdagings en versoekings van die tienerjare sal dra. Ek kan NEE sê vir versoekings omdat Jesus my liefhet en wanneer ek bedreig en uitgestoot voel weet ek “Yes, Jesus Loves Me!”.
NOG ’N TIENERMA VERTEL VAN HAAR ERVARINGS MET HAAR ONTLUIKENDE TIENERDOGTER
—Alta Marais
Ek vra verskoning dat die blog deur so 'n lang "winterslaap" is, maar ons is weer aan die gang. Baie dankie Jampie, vir jou gereelde deelname, jou waardevolle insette en dat jy POSPAR daar in die noorde aan die gang hou.
Amanda bely dat haar dogter se emosionele reaksies en onbillike aantygings haar soms onkant vang. Hulle gesin het saam besluit om te spaar om oorsee te gaan. Almal is baie opgewonde daaroor. Toe gebeur dit dat 'n groep maats Gerda nooi om saam met hulle te gaan vakansie hou - elkeen sou verantwoordelik wees vir eie kostes, nogal 'n aansienlike bedrag. Toe sy daaraan herinner word dat hulle spaar om oorsee te gaan, het sy uitgevaar dat hulle as gesin nooit lekker goed saam doen nie en dat sy in elk geval nie weet of sy nog hoegenaamd wil oorsee gaan nie. Dit is toe dat Ma haar POSPAR benadering oorboord gooi en haar laat verlei om ingesleep te word in 'n emosionele redenasie wat tot niks goeds gelei het nie.
By 'n ander geleentheid wou sy haar stukkende skoolskoen se sool vasplak. Amanda wou behulpsaam wees en het aangebied dat Pa dit kon doen. Gerda vervies haar toe en sê sy weet hy sal dit nie doen nie, want hy het mos nooit tyd nie en verwag Ma dat sy maar met die stukkende skoen moet loop? Ma voel seergemaak. Sy trap weer in die slagyster deur deel te neem aan 'n emosionele gesprek en sê dat Gerda onbillik is. Gerda het haar opgeruk, die skoen neergegooi en weggeloop.
Na dié twee insidente het Amanda gaan sit en besin en ook weer die insetsel : "Help, ek dink ek het 'n tiener" op die blog gelees. Sy het haarself in haar kind se skoene geplaas en beleef hoe haar kind "te midde van 'n sikloon, sonder 'n kompas, voortploeter op haar ontwikkelingspad." Meteens is sy met groot deernis vervul.
Amanda het na Gerda gegaan en gesê dat sy jammer is dat sy skerp reageer het en het aan die hand gedoen dat hulle later, as Gerda kalm is, oor die insidente kan gesels. Twee dae later het Gerda kom sê dat sy jammer is oor haar optrede en toe kon ma en dogter 'n sinvolle gesprek voer.
Amanda het uit die situasie geleer dat sy nie dit wat haar verwarde kind kwytraak, persoonlik moet opneem nie. Tweedens weet sy nou dit nie wys is om te reageer terwyl Gerda (en syself) in 'n erg emosioneel toestand is nie, maar dat dit veel beter is om eers te wag tot Gerda weer kalm is en in staat is om logies te dink. Sy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Gerda nou nóg meer kwaliteit tyd nodig het as voorheen.
Hulle gesin probeer ook om deur middel van die waardes waarop hulle saam besluit het, ankers daar te stel waaraan almal van hulle gedurende hierdie, soms stormagtige, tyd kan vashou. Hier volg hulle waardes:
- Ons gesin gebruik woorde wat opbou
- Ons is lief vir mekaar
- Ons het respek vir mekaar
- Ons maak tyd vir mekaar
- Ons is bedagsaam teenoor mekaar
KINDERS EN NAGMAAL
Die Sinode het in 1994 besluit dat:
- gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo,
- aan die vereistes van 1 Korinthiërs 11 voldoen en
- die begeerte het om Nagmaal te gebruik,
- tot die Nagmaal toegelaat mag word.
Ouers is verantwoordelik vir die begeleiding van hul kinders. In die gesprek met die kinders, moet hulle op die volgende gewys word:
- die brood en wyn wys ons op Jesus se middelaarsterwe vir ons,
- daardeur verseker die Here ons van Sy liefde en vergifnis van al ons sondes,
- deur ons deelname sê ons dat ons glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, dat ons God liefhet en vir Hom alleen leef.
Die nagmaal lê in die verlengde van die Pasga:
- dit is ‘n Verbondsmaal waarby die kinders ingesluit is en waarin die ouers dus ook ‘n bepaalde verantwoordelikheid het,
- as sakrament het dit ten doel om te troos, te help verstaan en geloof te versterk en is dit nie gebou op die geloof of begrip nie,
- dit is ‘n genadeteken wat alleen soos kindertjies ontvang kan word (Luk 18:17),
- 1 Kor 11 se verwysing na die eet van ‘n oordeel oor jouself, hang saam met die verbreking van die eenheid van die kerk (rykes het armes en slawe nie geag nie). Die gedeelte het nie ten doel om die mate van erns of insig as kwalifikasie vir die “waardige” gebruik van die nagmaal te stel nie.
Lees gerus ook Dr Rian Prins se boekie: Brood en Wyn vir groot en klein. Dit is in die Gemeentebiblioteek beskikbaar.
POTTY BREAKDOWN
It was my granddaughter Shirley's first day of kindergarten. The teacher told the class if anyone needed to go to the bathroom to hold up their hand. After a moment's thought, little Shirley asked, "How's that going to help?"
—Thomas LaMance, Prewitt, New Mexico "Kids of the Kingdom," Today's Christian
RUB IT IN
After my 5-year-old daughter said her prayers, I kissed her goodnight but was a little sad when she began wiping my kisses from her cheek.
"Danielle," I said, "are you wiping away my kisses?"
"Oh no, Mom," she replied sweetly. "I'm just rubbing them in."
—Libby Botwinick, Manalapan, New Jersey
"Kids of the Kingdom," Today's Christian
DAAR IS PRYS ÉN PRYS - DIE EEN MANIER IS BETER AS DIE ANDER
—Alta Marais, gepubliseer Dinsdag, 05 Mei 2009 06:19
Ouers vertel dat hulle kind geneig is om te kere te gaan en homself swak te gedra direk nadat hulle hom geprys het, byna asof hy kwaad is vir hulle en hulle verkeerd wil bewys. Sy ma het byvoorbeeld, nadat hy die gras gesny het, vir hom gesê: "Jy is fantasties." Hy het egter sy rug op haar gedraai, grond op sy sussie se kop gegooi en was die res van die dag onmoontlik. "Waarom doen hy dit?" het sy gesug. Dit mag wees dat sy prentjie van homself totaal anders is en dat hy nie aan homself as "fantasties " dink nie. Hy weet dat hy dikwels in sy gedagtes sy ouers verwens as hy die gras moet sny terwyl hy liewer wil speel. Dit mag ook wees dat hy dink sy oordryf en is nie eg nie. Omdat kinders nie maklik met woorde uitdrukking aan hulle diepste gevoelens gee nie, "praat" hulle deur hulle gedrag. Sy swak gedrag kan 'n manier wees om se sê dat haar evaluering van hom verkeerd is en dat dit hom skuldig en ongemaklik laat voel en dat hy nooit "fantasties" sal kan wees nie.
Is dit dan verkeerd om te prys? Natuurlik nie, maar daar is prys én prys. Dit is wenslik dat die ouer sal kommentaar lewer: "Die tuin lyk netjies en die kante is regtig baie gelyk gesny." (ons verwys ook na sulke kommentaar as positiewe terugvoer). Dit is 'n realistiese beskrywing van wat die kind werklik gedoen het en dit sal hom goed laat voel as sy dit verwoord. Toe sy gesê het : "Jý is fantasties" het sy die seun se persoonlikheid geprys en nie wat hy gedoen het nie.
Wat moet ons vermy? Dit is vir die kind 'n verleentheid as sy persoonlikheid geprys word en woorde soos jy is wonderlik, ongelooflik, 'n regte engel, so vrygewig of 'n staatmaker gebruik word.
Lof moet eerder te make hê met sy pogings en met wat hy bereik. As hy sulke terugvoer kry, begin hy vanself goed voel oor homself.
Gertjie, sewe jaar oud het sy pa gehelp om 'n klipmuurtjie in die tuin te pak. Hy het die klippe aangedra.
Pa: "Die klippe is nogal swaar."
Gertjie (trots): "Ek kan hulle optel en dra."
Pa: " 'n Mens moet nogal vasbyt om sulke swaar klippe te dra."
Gertjie: "Ek kan. Ek is sterk!"
In kontras hiermee sou die kind nie dieselfde afleiding oor homself kon maak indien sy pa die volgende sou gesê het nie:
"Jy is my staatmaker"
"Jy is ongelooflik"
"Jy is wonderlik"
Die geheim? Beskryf op 'n realistiese manier wat die kind reg gedoen het en vermy dit om sy persoonlikheid te prys.
Huweliksleiding
CAN WE TALK?
by Elaine Creasman
Raad vir kommunikasie probleme in die huwelik.
Lees dit hier.
WE KNEW MORE THAN WE KNEW WHEN WE CHOSE WHOM WE CHOSE
Uit: Before You Say “I Do” van H Norman Wright & Wes Roberts
Many problems occur because of the lack of tolerance for differences of attitude and opinions in the marital relationship. You will be vaguely aware of differences when you marry. You certainly don’t say now that your partner is different – more likely “unique”. But after a while you will say ... different. At first you may try to accommodate. You tolerate, overlook, or deny differences to avoid conflict.
Then you may try to eliminate the differences by demanding, pressuring, or manipulating your spouse.
But eventually you will learn to appreciate the differences because you discover that they are necessary and indispensable. And because of this you will be able to celebrate them. You delight in them. You welcome them. You encourage their growth. As you go through this process you will discover that you didn’t marry the wrong person...
In reality we marry the right person – far more right than we can know. In a mysterious, intuitive, perhaps instinctive fashion we are drawn by both similarities and differences, by needs and anxieties, by dreams and fears to choose our complement, our reflection in another... We knew more than we knew when we chose whom we chose!